Wednesday, January 8, 2020

Die boek van Openbaring (Openb. 1 - lesse - ekstra).

"Ekstra inligting" om te gebruik saam met die pos getiteld
 "Die boek van Openbaring (Openb. 1 - Les opsies)". 

In hierdie pos:
-  ekstra inliging vir lesaanbieding
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Les 1:
Volg die url op les 1 op bg. pos om meer te leer oor engel wesens wat baiemaal deur die Here gebruik word as boodskappers (soos ook in hierdie geval in die boek van Openbaring).

Neerm gerus tyd om ook uit te wys dat daar nie net gehoorsame engele is nie maar ook dwalende engele. Die duiwel het bv. ook engele onder hom (wat hom dien);  dus, nie alle engele wat aan mense verskyn, bring die waarheid, of is deur die Here gestuur nie.  Daar is heelwat gevalle van engele wat aan mense verskyn het en 'n verdraaide waarheid of evangelie gebring het - sommige gelowe is selfs hierop gebou!  Ons moet versigtig wees en onderskei of 'n engel regtig deur die Here gestuur is. Sou hy bv. 'n ander evangelie bring in stryd met die evangelie van Jesus Christus of die waarheid, of dit wat hy se verskil van wat die Here alreeds gesê het, dan is hy nie deur die Here gestuur nie (Gal. 1:8). Net soos profete getoets moet word, so moet engele wat aan mense verskyn, ook getoets word... - kyk gerus na die vb. in 1 Kon. 13 van hoe een profeet 'n ander profeet oortuig het om die teendeel te doen van wat die Here hom beveel het, en hoe hierdie ongehoorsame profeet selfs gelieg het dat 'n engel met hom gespreek het met 'n woord vd Here... (1 Kon. 13:18). Daar is 'n maklike manier waarop die ware profeet kon weet dat hierdie persoon vir hom lieg, en dit was deur te toets wat hy sê. Hy moes nie na die ander profeet geluister het nie, al het daardie verklaar dat hy 'n profeet is vd Here en 'n engel aan hom gestuur.
Dus, wanneer engele aan mense verskyn, moet hulle getoets word aan wat hulle sê...
______________________________________________________

Les 2:
Volg die url op les 1 op bg. pos om meer te leer oor wat dit beteken om "in die Gees" te wees.

'n Onderwerp wat goed by hierdie tema aansluit, is die vd "krag van die Heilige Gees". Jesus Christus gee Sy Gees aan elkeen wat in Hom glo en Hom dien - hulle ontvang dus die Gees ja, maar wat die krag vd Gees aanbetref, is dit nie noodwendig eenmalig nie.  Christene kan bv. gedurig "vervul word met die Gees" (maar wat dan verwys na "die krag vd Gees")(Hand. 4:31; 13:52; Rom. 15:13) - selfs waar iemand vervul word met blydskap en vrede deur die geloof, kan ook gesien word as "krag vd Heilige Gees" ontvang.  Deur krag vd Heilige Gees te ontvang beteken nie dat die Gees telkens van iemand wyk en dan weer terugkom nie, maar verwys na "krag" vd Gees. Wanneer iemand wederbaar word, bly die Gees vir altyd by Hom (Joh. 14:17), maar hy kan gedurigdeur vervul word met krag vd Gees sodat hy kan getuig, en dan verander die Gees iemand se manier van dink en sien, en werk verskillende gawes en bedieninge deur hom.
Om kragtig te wees in die Here, gaan nie oor hoeveel wonderwerke iemand doen of hoe luidrugtig hy is nie, maar kragtig in die Here beskryf eerder die persoon wat die waarheid soek, die persoon wat geloof het, die een wat die Here se wil soek en begeer om Sy geregtigheid te doen, die een wat bereid is om die evangelie te verkondig en groei in die Here...

Bestudeer gerus die volgende om te verstaan hoekom 'n gelowige die krag vd Gees nodig het:
http://warechristene.blogspot.com/2013/06/wat-het-jesus-bedoel-met-die-woorde.html.
Baie Christene begeer die krag vd Heilige Gees, maar begeer hulle om te getuig?  Die rede vir die krag vd Gees, is "om te getuig"!  Nie om belangrik te wees of om jou eie begeertes te bevredig nie.
http://warechristene.blogspot.com/2012/05/wat-dit-beteken-om-kragtig-te-wees-in.html.
Baiemaal word die krag vd Gees begeer om verkeerde redes, en baiemaal word hierdie krag verkeerd gebruik...
http://warechristene.blogspot.com/2012/04/onderwerp-julle-dan-aan-god.html.
______________________________________________________

Les 3:
Volg die url op les 1 op bg. pos om meer te leer oor "gesigte sien".

'n Tema wat goed saam met hierdie onderwerp gaan, is die van "drome";  bv., wat is die verskil tussen 'n gesig en 'n droomgesig.  Terwyl 'n gesig verwys na iets wat iemand sien asof dit werklik gebeur, is 'n droomgesig eerder 'n droom waarin 'n "gesig" is. In sommige skrifte word dit as dieselfde hanteer, omdat dit beide is (bv. Dan. 2 en 7). Ander woorde wat ook hier gebruik word is "gesig in nag gesien". Gesigte kom nie altyd deur drome nie, maar kan dus wel deur 'n droom kom - en die Skrif verklaar dan dat dit tydens "diepe slaap" geskied (Job 33:15).  Bestudeer gerus die volgende pos om meer oor "slaap" te leer http://warechristene.blogspot.com/2017/05/slaap-en-die-geestelike-betekenis-van.html.

'n Gesig is egter nie net 'n droom nie, maar voel net so werklik vir die persoon wat dit ervaar asof dit regtig besig is om te gebeur (en kan terloops besig wees om te gebeur, soos wanneer iemand in die Gees weggevoer word na 'n ander plek!).
'n Goeie vb. van hoe werklik iemand 'n gesig kan ervaar, is die in Hand. 12:9 waar Petrus gemeen het hy 'n gesig sien toe die engel hom uitlei uit die gevangenis, terwyl dit werklik plaasgevind het!  L.w. dat Petrus al in die verlede gesigte gesien het (Hand. 10). Dus, vir hom om die werklikheid hier te verwar met 'n gesig wys hoe werklik die gesigte vir hom moes voel wat hy in die verlede ervaar het. Die een wat dit beleef se sinne beleef dit ook (Hebr. 12:21; Dan. 10:7,8,16 - groot skrik, geen krag, gesonde kleur verander, deur krampe oorval ens.).
______________________________________________________

Les 4:
Volg die url op les 1 op bg. pos om meer te leer oor "profete/profesie". Alhoewel die klem in les 4 is op profesie/profete , is die tema van geloofwaardigheid belangrik in hierdie les. Die rede duswaarom in hierdie les gekyk word na die tema van profesie is omdat die boek van Openbaring 'n boek van profesie is, asook moet ons verstaan dat profete vd Here (ware profete) mense is wat die wil en woorde vd Here bring, en hulle verkondig Sy waarheid.
Daar kan in die les vinnig ook gekyk word na valse profete - 'n belangrike punt!, want nie almal wat profete is of profesie gee, is opreg nie - en dit is belangrik dat die onderskeiding gemaak word.
As daar meer ingekyk word op die geloofwaardigheid vd boek van Openbaring, sal hierdie poste moontlik help met idees:
http://sondagskooltuis.blogspot.com/2015/04/die-geloofwaardigheid-van-die-bybel_14.html
http://sondagskooltuis.blogspot.com/2015/04/die-geloofwaardigheid-van-die-bybel_79.html
https://sondagskooltuis.blogspot.com/2015/04/die-geloofwaardigheid-van-die-bybel.html
http://sondagskooltuis.blogspot.com/2015/04/die-geloofwaardigheid-van-die-bybel_43.html

Jesus is nie net Here nie maar ook Profeet bv., Petrus haal Moses se woorde aan in Hand. 3:22,23 waar na Jesus verwys word as Profeet - (Hand. 3:22,23 - Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word"). Hy is ook profeet want Hy het vir ons die WAARHEID gebring (Joh 14:23,24 - "Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het"). Dit wat Jesus Christus vir ons oor die eindtye geleer het is waarheid...
Ekstra inligting:
Jesus word in Openb. 1 beskryf met 'n kleed wat op voete hang, goue gordel om die bors, hoof en hare soos witwol, oë soos vuurvlam, voete soos blink koper, en stem soos stem van baie waters (Openb. 1:13-15).  'n Soortgelyke beskrywing word gegee van een vd manne wat aan Daniel verskyn het in die gesig in Dan. 10. In die betrokke skrif word die man daar voorgestel as 'n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas, en sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte... Daarom dink baie geleerdes dat hierdie "man" in Dan. 10 verwys na Jesus Christus;  en dus, net soos Jesus hier in die boek van Openbaring vir ons wil leer oor wat in die laaste dae gaan gebeur, net so wil dit ook lyk of Hy die een was wat vir Daniel kom wys het wat in die laaste dae gaan gebeur.  Oor die eeue het Hy dus seker gemaak dat Sy dienaars kennis het oor die einde - nie net toe Hy in persoon op die aarde was nie (Matt. 24; Mark. 13; Luk. 21), maar ook nadat Hy opgestaan het (boek Openbaring), en dit wil lyk, ook alreeds voor Sy eerste koms! (maw in Daniel se tyd).

En vgl. gerus hierdie verskillende eindtyd skrifte en sien hoe dit bymekaar inskakel en mekaar bevestig... Dit opsig self is ook 'n bewys dat die boek Openbaring geloofwaardig is, want feite en volgorde wat in die boek Openbaring gegee word, stem ooreen met ander eindtydskrifte.
Die geloofwaardigheid van die boek Openbaring kan dus deels toegeskryf word aan die feit dat
- (1) daar baie kruisverwysings is, en deels toegeskryf aan die feit dat
- (2) dit woorde is van Jesus Christus!
______________________________________________________

Les 5: 
Getuienis van Jesus Christus in Openbaring 1;
Wie is Hy?  Hoe word Hy beskryf?  En wat stel hierdie beskrywings voor?

Vir die Illustrasie:
-  7 kandelare  -   en Jesus tussenin met kleed wat op voete hang, goue gordel om die bors, hoof en hare soos witwol, oe soos vuurvlam, voete soos blink koper, stem soos stem van baie waters.
-  in Sy regterhand 7 sterre   -   skerp tweesnydende swaard uit mond, aangesig soos die son wat skyn in sy krag

(Openb. 1:20 - "die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes").

7 goue kandelare:  -  Hierdie kandelare stel die 7 gemeentes genoem in Openb. 1-3 (nl. Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa) voor  (Openb. 1:11-13,20). Vgl. dit ook met Openb. 2:5 waarin Jesus Christus die gemeente van Éfese voorstel as 'n gemeente wat se plek deur 'n " kandelaar" voorgestel word. Dit wil dus lyk of hierdie 7 kandelare genoem in Openb. 1:12,13 verwysend is na elkeen van die gemeentes daar genoem (elkeen "het 'n plek").
Johannes was "in die Gees" en hy hoor 'n stem agter hom wat hom beveel om dit alles op te skryf en aan die 7 gemeentes te stuur..., en toe hy omdraai is die eerste wat hy sien die "7 goue kandelare". Vgl. hierdie gerus met die goue kandelaar in die tabernakel (Eks. 25:31-40) - die eerste Christene uit die Jode was baie bekend met die tabernakel / tempel en sy meubels en altare, en elke stuk in die tabernakel het 'n doel gedien (en dus 'n betekenis gehad).  Maar wat was die doel en betekenis van die goue kandelaar?  Een feit wat uitstaan is dat dit die enigste LIGBRON was in die tabernakel (dit het ook 'n besonderse ontwerp gehad bv. dat dit van suiwer goud was en 7 arms gehad het, en met blommetjies en knoppies soos amandelbloeisels versier). Siende die kandelare die 7 gemeentes voorstel, is dit in die kol met hoe Christene soos lig is in hierdie wereld (kinders vd lig/dag)(skyn soos 'n lig in hierdie wereld-Matt. 5:16 ens.). En l.w. dat hierdie goue kandelaar in die tabernakel/tempel OLIE nodig gehad het om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê (Eks. 27:20). Vgl. dit gerus met die gelykenis vd 10 (diens)maagde in (Matt. 25) wat olie vir hulle lampe nodig gehad het...
Die feit dat Jesus tussen hierdie kandelare staan (Openb. 1:13) is miskien bedoel om te wys hoe Hy die Hoof is van die gemeentes.  Alle dinge is onder Sy voete onderwerp en Hy is as Hoof bo alle dinge aan die gemeentes gegee (Ef. 1:22; Kol. 1:18). Daarom moet almal wat behoort aan die Christelike liggaam, onderdanig wees aan Jesus Christus (Ef. 5:22,23). Nie net is Hy hulle Hoof en Verlosser nie (Ef. 5:23), maar Hy is ook instaat om 'n kandelaar te verwyder! (Openb. 2:5)(bv., die wat laat los en hulle nie wil bekeer nie - lees Openb. 2 en 3 om hierdie beter te verstaan). 

7 sterre: - Die 7 sterre stel die engele vd gemeentes voor (Openb. 1:20). Die woord "engel" beteken "boodskapper" - is die een wat God se boodskap na mense bring. Alhoewel die woord engel gewoonlik gebruik word van engel wesens, word dit somtyds gebruik van mense! (wat maw as boodskappers optree).  Dit beteken nie dat engele en mense dieselfde wesens is of kan wees nie (mense is immers weinig minder gemaak as die engele...Hebr. 2:7), maar wat dit bedoel is dat die Here ook mense gebruik om Sy boodskap na ander mense te bring - soos die geval van die "sterre" vd 7 gemeentes in Openb. Vgl. dit met Paulus se woorde in Gal. 4:14b - "........maar julle het my ontvang as ‘n engel van God, ..." - hulle het Paulus se woorde ontvang asof hy 'n engel is wat van God gestuur is (dit gaan oor die diens wat hy verrig deur soos 'n boodskapper vir die Here op te tree). In hierdie opgsig word die boodskappers vd 7 gemeentes "engele" genoem (en word deur die sterre voorgestel) - want hulle tree soos boodskappers van God op.
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.