Tuesday, April 7, 2020

DIE MENS (lig, kos, water, klere)(les : KOS)

Vir die ander dele oor hierdie onderwerp, gaan na:
- lig/asem: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/04/die-mens-lig-kos-water-klereles-1.html
- kos: (hierdie les)
- water: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/04/die-mens-lig-kos-water-klereles-3-water.html
- klere: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/05/die-mens-lig-kos-water-klereles-4-klere.html

Inleiding:
Die mens kan voorgestel word met saad of 'n plant of boom wat groei en vrug dra, en het lig nodig om te kan lewe, en kos en water nodig om aan die lewe te bly, en klere om hom te bedek. In hierdie reeks kyk ons na basiese lewensbenodigdhede, maar in konteks met die INNERLIKE MENS, want net soos die uiterlike mens hierdie (asem, kos, water, klere) nodig het, net so het die innerlike mens dit nodig.

In hierdie les word gekyk na "KOS".  Bv.. wat se soort kos het die innerlike mens nodig (om te kan lewe)?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
LES 2:
KOS:
Les Aanbieding:
- Gesels in die groep hoekom ons geld nodig het, en vir watter basiese behoeftes ons geld nodig het (bv. KOS).
- Plaas 'n skinkbord met 'n verskeidenheid van eetgoed voor die kinders (een eetdingetjie per persoon) en laat hulle kies, maar sit 'n bybel en 'n kruis op die skinkbord tussen die eetgoed (maak die eetgoedjies klein sodat hulle nie te veel tyd neem om dit te eet nie).

Gee tyd vir gesels en eet.

Die gesprek kan op die volgende uitloop:
Vra of hulle verstaan hoekom daar 'n Bybel en 'n kruis is op die skinkbord.  Verduidelik aan hulle dat net soos die uiterlike mens kos nodig het, net so het die innerlike mens kos nodig (om te kan lewe).  Die Here se woorde, asook Jesus self is soos kos vir die innerlike mens...
Vra hulle of hulle geweet het dat net soos die uiterlike mens sterwe sonder kos en water, net so sal die innerlike mens sterwe as dit nie kos en water kry nie (meer presies, as dit nie die regte soort kos en water kry nie) - alle mense gaan dood ja, maar dit verwys nie net na wanneer die uiterlike mens sterwe (en na stof terugkeer) nie, maar verwys ook na die "tweede dood" (die oordeel van die hel) waardeur elkeen sal gaan;  meer presies, waardeur die "natuurlike mens" sal gaan.  Die innerlike mens (die mens van binne / mens as gees) is soos iets sonder 'n huis wanneer die uiterlike mens sterwe.  Dan wag die innerlike mens op die tweede dood...;  tensy wedergebore!  Bv., "geestelike mense" of wedergebore mense wat die regte soort kos en water kry, sal nie deur die tweede dood gaan nie! Die geestelike lewe wel deur die asem van die Heilige Gees (verwysend na die innerlike mens), maar as hy nie kos en water kry nie, hoe kan hy verwag om aan die lewe te bly?

Lees in groep:  Joh. 6:27 - "Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël". 'n Groot gedeelte van die salaris wat ons verdien, gaan vir KOS.  Ons sit dus baie ure in om te werk vir spys wat vergaan, maar hoeveel tyd spandeer ons om te werk vir die kos wat nooit vergaan nie?  
Hoe werk ons vir hierdie kos?  
(1) Lees Joh. 6:28-35.  Antw.:  -glo in Jesus Christus.  Wanneer iemand glo in Jesus dan is dit asof hy werk vir daardie kos (wat bly tot in die ewige lewe).  Jesus Christus is soos BROOD vir ons (Hy is die brood wat uit die hemel neergedaal het)(Joh. 6:58). As iemand se innerlike nie van hierdie (regte soort) brood en water kry nie, dan kan hy nie aan die lewe bly nie - net soos die uiterlike mens ook nie aan die lewe kan bly sonder kos en water nie. (Joh 6:35 - "En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie"). Baie mense se innerlike is honger en dors omdat hulle nie vir Jesus Christus ken of in Hom glo nie, maar wanneer iemand in Hom glo, dan voel hy versadig.
(2) Lees Luk. 4:4.  Antw.  -doen bybelstudie of lees die woord.  Die woorde van God is soos brood (vir die innerlike mens).  
(3) Lees Luk. 4:34.  Antw. -doen die wil vd Here.  Wanneer ons die wil vd Here doen dan is ons besig om ons innerlike mens te voed. 

"Voedsel" verwys nie altyd na kos wat per mond ingeneem word nie. maar kan dus ook verwys na die woorde vd Here, of om Sy wil te doen of 'n opdrag uit te voer wat Hy vir jou gee, te bid of te vas, die Here te raadpleeg en jou hoop in Hom te stel. 

Net soos die uiterlike mens nie sonder kos kan lewe nie, net so kan die innerlike mens nie sonder die Here en Sy woorde lewe nie:  (Mat 4:4 - "Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan"). Ons kan nie van brood (wat vergaan) alleen LEWE nie! 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Verdere inligting vir lesaanbieding:

Van altyd af was gereelde "vas" of vas op vasgestelde tye, iets wat voorgeskryf was aan die volk van God.  Die eerste Christene het ook gereeld gevas (Hand. 13:2,3; 14:23; 1 Kor. 7:5);  nie om 'n wet na te kom nie maar om tyd met die Bruidegom te spandeer, om Hom te raadpleeg en Sy woorde te soek. Vir 'n studie oor vas en wat alles om in aanmerking te neem, gaan na: https://warechristene.blogspot.com/2016/01/om-te-vas.html.  

(Mar 2:18-20 - "En die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae.)(Bestudeer gerus ook die tema "nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word" https://warechristene.blogspot.com/2016/01/nuwe-wyn-moet-in-nuwe-sakke-gegooi-word.html).

Wanneer ons vas dan plaas dit die klem op "kos vir die binneste" - dit is m.a.w. soos OM TE EET, maar nie voedsel vir die uiterlike mens nie, maar voedsel vir die innerlike mens.  Hierdie soort kos is nie kos wat vergaan nie, maar kos wat ewigheidswaarde het (bv. om vir Jesus Christus te ken en Sy woorde te bestudeer, Sy wil te doen...).  "Om te vas" gaan dus nie oor glad nie eet nie, maar gaan oor wat jy eet!
_________________________________________________________________________________
Nog bronne:
------------
Honger: https://warechristene.blogspot.com/2017/10/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html
Vas: http://warechristene.blogspot.com/2016/01/om-te-vas.html
Ryk in die Here: http://warechristene.blogspot.com/2017/09/wat-dit-beteken-om-ryk-te-wees-in-god.html------------------------------------------------------------------------------------------------------------

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.