Tuesday, April 7, 2020

DIE MENS (lig, kos, water, klere)(les 3: WATER)

Vir die ander dele oor hierdie onderwerp, gaan na:
- lig/asem: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/04/die-mens-lig-kos-water-klereles-1.html
- kos: (hierdie les)
- water: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/04/die-mens-lig-kos-water-klereles-3-water.html
- klere: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/05/die-mens-lig-kos-water-klereles-4-klere.html

Inleiding:
Die mens kan voorgestel word met saad of 'n plant of boom wat groei en vrug dra, en het lig nodig om te kan lewe, en kos en water nodig om aan die lewe te bly, en klere om hom te bedek. In hierdie reeks kyk ons dus na basiese lewensbenodigdhede, maar in konteks met die INNERLIKE MENS, want net soos die uiterlike mens hierdie (asem, kos, water, klere) nodig het, net so het die innerlike mens dit nodig.


In hierdie les word gekyk na "WATER".  Bv.. wat se soort water het die innerlike mens nodig (om te kan lewe)?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
LES 3:
WATER:
Les INLEIDING:
Bied vir die kinders 'n beker water aan waaruit hulle kan drink (natuurlik vars water maar hulle weet dit nie) - vertel vir hulle dat die water geskep is uit 'n ou dam daar naby wat sowat 100 jaar oud is.  Laat die water vuil lyk (bietjie bruin voedselkleursel daarin) en daar kan miskien iets indryf (soos fyn suurelmoenskil of iets). Kyk of hulle die water wil drink.  Laat die groep bietjie daaroor gesels, bv. dat daar kieme in is; die water kan mens siek maak/dood maak..ens. Gesels ook oor die belangrikheid van water en hoe niemand daarsonder kan lewe nie... En waarvoor anders is water nodig? - bv. vir skoonwas.

Laat die groep hieroor gesels.

Waarop hierdie gesprek kan uitloop:
Lesaanbieding:
Net soos die uiterlike mens water nodig het om aan die lewe te bly (en hom skoon te was), net so het die innerlike mens water nodig om te bly lewe, maar nie enige soort water nie!  Die BRON waarvanaf die water verkry word, is belangrik. As iemand bv. water van 'n vekeerde bron drink (bv. 'n bron van giftige water wat hulle kan doodmaak) dan kan hulle nie verwag om gesond te bly of in die lewe te bly nie.  Net so, vir die innerlike mens om in die lewe te bly, het hy water van 'n spesifieke bron nodig, en daardie water word genoem "lewende water" (wat terloops slegs van een bron verkry kan word). As die innerlike mens nie hierdie water kry nie, sal hy nie vir ewig lewe nie en sal dan deur die "tweede dood" gaan (oordeel vd hel)(Openb. 20:14; 21:8). 

Die mens word soos saad in die wereld gesaai en geplant... (Matt. 12:33; Luk. 3:9; 1 Kor. 3:6-8), en word o.a. voorgestel soos bome (wat groei en vrug dra)(Luk. 3:9), of takke of lote... (Rom. 11; Joh. 15:5). En net soos saad geplant en NATGEMAAK word (en God dit laat groei), net so het die innerlike mens WATER NODIG om te kan groei en vrug dra, en aan die lewe te bly.  Die bron by wie "lewende water" verkry word is Jesus Christus self.  Jesus het bv. die volgende opmerking gemaak aan die Samaritaanse vrou: -(Joh 4:14 - "maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe). Die doping in die Heilige Gees word ook voorgestel soos 'n "drank" wat aan gelowiges gegee word, waarin hulle "dors na Sy Gees" en nadat hulle gedrink het "strome van lewende water uit hulle binneste vloei" (Joh. 7:37-39). Hierdie "drank" word slegs gegee aan die wat in Jesus Christus glo en Hom gehoorsaam. Die wat in Jesus Christus glo moet Hom vra om hierdie "drank" - vra die Vader om jou die Heilige Gees te gee, en vra vir Jesus Christus om jou te vul met die krag van Sy Gees (Luk. 11:13; Joh. 1:33).

Wanneer iemand water nodig het maar dit nie onmiddellik kry nie, raak hy dors.  Op dieselfde wyse is die innerlike mens "dors" solank hy nie lewende water kry nie - hy is dan soos 'n land wat droog is. Alle "natuurlike mense" kan gesien word soos mense wat dors het.  Ons weet tog goed dat die mens oorspronklik van grond gemaak is (en dus na grond terugkeer wanneer hy doodgaan), en elke mens kan dus ook vgl. word met 'n stuk grond. Die Here is soos 'n fontein van water;  dus, wanneer iemand "sonder die Here is", of nie by Hom lewende water kry nie, kan hy voorgestel word soos 'n "dor land" (Hos. 2:1-3; Jer. 51:43; Ps. 68:6)('n stuk grond sonder water - 'n stuk grond wat DORS het). Om in Jesus Christus te glo en in Hom te bly, is soos om water te gee vir jou innerlike mens - deels gaan dit daaroor dat iemand dors om Sy wil te doen (Mat 5:6 - "Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word").

Water wat die innerlike mens nodig het verwys deels na die bron waarvanaf dit verkry word, nl. die Here (Jer. 2:13; Joh. 1:1), en deels na die woorde van God (Ef. 5:26; Amos 8:11; Spr. 18:4; 10:11a) asook na die Heilige Gees (deur wie gelowiges bv. groei en vrug dra, en LEWE...)(Joh. 6:63,68; Jer. 44:3). 
As iemand water van 'n verkeerde bron kry (bv. afgode)(Hos. 2:5) en staatmaak op wereldse wysheid (bv. heidense praktyke en afgodsleringe), en nie die Heilige Gees het nie, dan is hy soos 'n dor land wat dors het omdat hy nie die (lewende) water kry wat sy innerlike nodig het om aan die lewe te bly nie. 

Water word ook gebruik om onsself skoon te maak. Net soos die uiterlike mens nodig het om te bad en die vuilgoed afgewas word, net so het die innerlike mens nodig om gewas te word, want net soos die uiterlike mens vuil word net so word die innerlike mens vuil of bevlek (met sonde).  "Sonde" maak die mens vuil en hy het afwassing nodig!  Niemand kan in die koninrkyk van God ingaan as hulle nie "afgewas" word nie, maar hierdie AFWASSING kan nie deur enige "water" geskied nie - die "water" waardeur iemand afgewas word, verwys na BLOED (Openb. 1:5; Ef. 5:26,27) - maar ook, nie enige iemand se bloed kan dit afwas nie!

Daar is natuurlik nog heelwat wat oor hierdie onderwerp gese kan word, maar is te veel vir hierdie les (bv. klere wat vuil word, soos die Christen wat bekleed is maar sy klere vuilmaak...). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Verdere inligting vir die onderwyser:

Water vir lewe:https://warechristene.blogspot.com/2018/06/water-vir-lewe.html
Geestelike betekenis van "dors":https://warechristene.blogspot.com/2018/03/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html
Die Here ons Bron: https://warechristene.blogspot.com/2019/10/die-here-ons-bron.html
Vrug tot ewige lewe: http://warechristene.blogspot.com/p/blog-page.html

------------------------------------------------------------------------------------------------------------

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.