Tuesday, May 26, 2020

DIE MENS (lig, kos, water, klere)(les 4: KLERE)

Vir die ander dele oor hierdie onderwerp, gaan na:
- lig/asem: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/04/die-mens-lig-kos-water-klereles-1.html
- kos: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/04/die-mens-lig-kos-water-klereles-kos.html
- water: https://sondagskooltuis.blogspot.com/2020/04/die-mens-lig-kos-water-klereles-3-water.html

Inleiding:
Die mens kan voorgestel word met saad of 'n plant of boom wat groei en vrug dra, en het lig nodig om te kan lewe, en kos en water nodig om aan die lewe te bly, en klere om hom te bedek. In hierdie reeks kyk ons dus na basiese lewensbenodigdhede, maar in konteks met die INNERLIKE MENS, want net soos die uiterlike mens hierdie (asem, kos, water, klere) nodig het, net so het die innerlike mens dit nodig.

In hierdie betrokke les word gekyk na "KLERE" bv., wat se soort klere het die innerlike mens nodig, of wat se soort klere dra iemand en wat vertel daardie klere van hom?, of hoekom het ons klere nodig?  Die les of dele vd les, kan miskien te ingewikkeld wees vir jonger groepe en moet verkieslik met ouer kinders of jongmense behandel word, of net dele vd lesse met jonger kinders behandel word. 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

LES 4:
KLERE:
(in twee lesaanbiedings hieronder opgedeel, maar kan maklik as een behandel word)
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
4(a)

Les Inleiding:
Voorbereiding: Trek 'n paar prente van die internet af en gebruik soos flitskaarte - prente van kleredrag op mense, bv. 'n koning se klere, priester se klere, iemand wat mooi uitgevat is en iemand wat flenterklere aanhet, ens.
Bespreek in die groep:  
- Wat stel elkeen se KLERE voor?
(hou die flitskaarte op en laat hulle sê wat hulle dink wie al die mense is - die klem is op die KLERE wat elkeen dra bv., wat vertel hulle klere van hulle?) 

Les Aanbieding (jonger kinders):
Die soort klere wat iemand aanhet, sê baiemaal iets van daardie persoon bv., wie hy is of wat sy pligte is of sy plek in die samelewing of in 'n groep, ens. Op dieselfde wyse beklee die Here mense met klere om te wys wie hulle is. Bv., wanneer iemand 'n kind van God word word hy ook spesifieke "klere aangetrek". Natuurlik verwys dit nie na letterlike klere wat met die oog sigbaar is nie, maar dit is soos klere wat vir die innerlike mens aangetrek word en ons kan dit nie met die blote oog sien nie. Hierdie "klere" verwys ook nie na enige soort klere nie maar 'n spesifieke soort bekleding, en word somtyds na verwys as "klere van heil" (Jes. 61;9,10). Die woord "heil" hier beteken "redding";  m.a.w., die wat die klere van heil of redding aanhet, verwys na die mense wat eendag gered gaan word en die aarde gaan beërwe (want hulle sonde is vergewe en daarom sal hulle nie die dood erf nie).  Die Here trek vir Sy kinders hierdie "klere" aan, en as iemand nie hierdie "klere" aanhet nie, dan kan hy nie eendag die aarde beërwe en vir ewig lewe nie. Somtyds word na hierdie soort klere verwys as die "klere van heil" soos hierbo gesien (Jes. 61:9,10), maar daar is ook ander begrippe van verskillende soorte bekleding wat in die Skrif gebruik word om spesifieke groepe mense aan te dui, bv. die met "wit klere" verwys na die wie se sonde vergewe is, maar word ook aangetrek vir die wat gely en doodgemaak is ter wille van hulle geloof in Jesus Christus. Die met 'n "bruilofskleed" verwys weer na die mense wat uitgenooi is na die bruilof vd Lam... So sien ons dat verskillende soorte bekleding vir ons iets vertel van 'n persoon. 

Christene is dus soos mense wat deur die Here "beklee" word (m.a.w. wanneer iemand in Jesus Christus glo, dan word hy "klere aangetrek"). Ander woorde wat ook in die Nuwe Testament gebruik word is dat die wat Christene word hulle "beklee met Christus" (asof hulle vir Christus aantrek, maar natuurlik Hom nie letterlik aantrek nie, maar verwys na hoe ons kinders van Hom word en dus deel word van die wat eendag gaan erf).  

(vir ouer kinders)
Vir die onderwyser:  hierdie deel (van "beklee met Christus") kan verder geneem word wanneer dit met groter kinders behandel word, bv.: -(ons erfenis is in Jesus Christus want ons word wederbaar asof gebore uit Hom - is dus deel vd kinders van Abraham, Isak, Jakob....Dawid.....Jesus Christus - asof uit Sy saad gebore - uit God gebore - trek 'n nuwe huis aan vir die innerlike mens)(Gal. 3:29). Hier moet ons onderskei tussen die uiterlike mens en die innerlike mens bv., die uiterlike mens kan gesien word soos 'n "bekleding", soos iets waarmee die innerlike mens "beklee" is (bv. elkeen is beklee met VEL en VLEES (Job 10:11)).  Die uiterlike mens kan dus gesien word soos 'n huis of 'n tent vir die innerlike mens (2 Kor. 5). Maar natuurlik is dit die tipe saad waaruit iemand gebore word dit wat bepaal wat se soort "huis" hy het, bv. alle mense het 'n verganklike tentwoning (is "natuurlike mense" want hulle is gebore uit Adam se saad) en gaan dus dood;  maar die "geestelike mens" wat weergebore is uit God se saad, sal eendag 'n onverganklike tentwoning (uiterlike) kry wanneer Jesus terugkom (genoem "verheerlikte liggaam"), en sal dus vir ewig kan lewe. Op dieselfde wyse is die innerlike vd natuurlike mens in 'n huis wat verganklik is en vir hulle vrugte tot die dood dra, maar die geestelike mens se innerlike is soos iemand wat opgestaan het uit die dood en is dus BEKLEE met 'n nuwe huis en dra vrugte tot ewige lewe.  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
4(b)

Les Inleiding:
Voorbereiding: Bestudeer die storie van "die keiser se nuwe klere" (https://www.youtube.com/watch?v=CqYGZU8blSs), en begin die les deur hieroor te gesels... 
Bespreek in die groep:  
-  Waarom trek ons klere aan?  Is dit geoorloof om kaal in die publiek rond te loop? 

Les Aanbieding (ouer kinders):
Ons ken almal die storie vd "keiser se nuwe klere" en kan ons net indink hoe skaam die keiser moes gewees het toe hy agterkom hy's bedrieg.  Klere is belangrik want dit bedek iemand se naaktheid. Sonde laat 'n mens ook naak voel (dit is bv. die rede waarom Adam en Eva bewus geword het van hulle naaktheid na die sondeval)(Gen. 2:25; 3:6,7). Wanneer jy sonde doen voel jy soos iemand wat kaal is en naaktheid maak 'n mens skaam (die geestelike betekenis van "naaktheid" in die Skrif gaan bv. oor "skaamwees en vernedering, bv. weens "ontbloting" - Openb. 16:15; 2 Kor. 5:3; Hand. 19:16; 1 Kor. 4:11; Hos. 2:3; Jes. 20 ens.). Maar wanneer iemand se sonde vergewe word dan voel hy nie meer skaam nie en is dan nie meer soos iemand wat kaal is nie maar soos iemand wat klere aanhet... 
Wanneer iemand 'n kind van God word word hy spesifieke soort "klere aangetrek" (m.a.w. klere om sy naaktheid te bedek).  Hierdie verwys natuurlik na die innerlike mens (nie die uiterlike mens nie). Op dieselfde wyse wat die uiterlike mens klere nodig het om sy naaktheid te bedek, net so kan die innerlike mens gesien word as NAAK a.g.v. sonde, en het dus "klere" nodig. Omdat die Christen se sonde vergewe is in Jesus Christus, word hy 'n spesifieke soort bedekking gegee wat wys dat hy deel is vd groep mense wat "nie meer soos naaktes staan nie" en dus word deel van hulle wat eendag gaan erf. As iemand nie hierdie "klere" aanhet nie dan kan hy nie eendag die aarde beërwe en bv. vir ewig lewe nie. Somtyds word na hierdie soort klere verwys as die "klere van heil" (wat verwys na die wat eendag gaan erf)(Jes. 61:9,10). Elke Christen se innerlike het hierdie klere aan wat hullle "skaamte bedek", en met hierdie "klere" sal hulle nie soos ander mense (wie se sondes nie afgewas is) eendag skaam wees of verneder staan nie. 

Een manier hoe hierdie in die Skrif verduidelik word is deur om te sê dat die wat in Christus Jesus glo, met Hom "beklee" is (kyk die tema "beklee met Christus"). Die begrip "met Christus beklee" is 'n goeie beskrywing van hoe die wat in Christus Jesus glo, ingedoop word onder die kinders van God - hulle word "kinders van Abraham" en het dus dieselfde erfenis as die kinders van Abraham. Hulle is soos kinders vd geloof - kinders van Jesus Christus..., gebore uit Sy saad. Saad bepaal wat se soort plant opkom, bv. die gebore uit Adam se saad bring "natuurlike mense" voort (die huis waarmee hulle beklee is, is verganklik), maar die gebore uit God se saad bring "geestelike mense" voort (die huis waarmee hulle beklee is, is onverganklik).

Om "met Christus beklee" te word, verwys egter net net na 'n eenmaligte gebeurtenis waarin die Here vir Sy kinders so "klere aantrek" nie, maar is ook 'n begrip wat gebruik word om die pad van godsaligheid (waarop elke Christen is), aan te dui! - en is dus ook 'n begrip wat gebruik word om aan te dui hoe elke Christen hom of haarself daagliks "met Christus moet beklee". 
(1) Hierdie bedekking of  "klere" wys m.a.w. deels na klere wat alreeds aangetrek is, en wys dus op die toestand van iemand se innerlike (is m.a.w. "vry" - is nie meer as slaaf (slaaf van sonde) gebore nie, maar nou gebore as 'n vrye), 
(2) en deels is hierdie bedekking soos iets wat daagliks aangetrek word en "moet die klere wat vir hom aangetrek is, bewaar" (was as "slaaf", as slaaf van sonde gebore, maar is vrygekoop deur Christus en behoort dus nou aan Hom - en is dus nou 'n "slaaf van Christus")(dien nie meer die sonde nie, maar dien die Here - is gehoorsaam aan Hom - is gehoorsaam aan Sy Gees).

Christene is dus "beklee" maar as hulle nie hierdie "KLERE" (wat hulle aanhet) BEWAAR nie, sal hulle ook soos "natuurlike mense" eendag naak staan wanneer Jesus Christus terugkom (en dan sal ander hulle skaamte sien!)(Openb. 16:15). Wanneer die uiterlike mens naak is dan kan almal sy skaamte sien;  dus, hy staan dan heeltemal bloot vir almal om te sien, en die wat so rondloop word belaster en hanteer soos uitvaagsels (1 Kor. 4:11). Op dieselfde wyse is Christene wat besig is met afgode en "sonde tot die dood", besig om hulleself te ontbloot of om hulle klere te bevlek. Christene wat bv. stap in "sonde tot die dood" is soos mense wat hulleself ontbloot, en kan dus gesien word soos mense wat "naak" is... (Openb. 3:18). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Verdere inligting vir die onderwyser:
Die volgende onderwerpe gaan saam met hierdie les en kan moontlik in verskillende lesse opgedeel word:
-  bruilofskleed: http://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2017/05/die-koninkryk-vd-hemele-is-soos-n_23.html
-  wit klere: http://eindtydonderwerpe.blogspot.com/2017/05/wie-oorwin-sal-beklee-word-met-wit-klere.html
-  met Christus beklee: https://warechristene.blogspot.com/2020/01/met-christus-beklee.html
-  klere van heil: http://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2020/04/die-christelike-kerk-as-nuwe-mens.html
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.