Friday, December 28, 2012

Storieverhaal-kaart 4: Jesus, die Here! (verhaal gedeelte)


In die storieverhaal-kaarte, is die verhale in die boeke van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, bymekaargebring - ekstra inligting is bygevoeg en flitskaarte uit die "Het jy geweet..."-boekie is ingesluit:  (gaan na die "Het jy geweet - page" om nog inligting te versamel)..  (Die storieverhale, kan gebruik word vir voorlesing en lesaanbieding in konteksverband)

  • Storieverhaal-kaart 4:  JESUS, die Here!  (Die aandag word gerig op sowel O.T. profesiee en op wat die volk verstaan het van hulle Messias - sou Hy ook Here wees?)
  • - bedoel vir 9 - 12 jariges, alhoewel dit in beprekingsvorm gebruik kan word vir tot 15 jariges (vrae wat dan gevra word, is bv.:  "Was Jesus net 'n profeet, soos sekere gelowe leer, of was Hy inderdaad die Seun van God en Here?"; "Hoekom bid ons "in die Naam van Jesus?"  ens.)

-----------------------------------------------------------

HIERDIE IS NET DIE STORIE-VERHAAL GEDEELTE - sien vorige blogpost vir inleiding

-----------------------------------------


(Die volgende kan soos 'n verhaal voorgelees word en gaan oor) "Jesus Christus, die Here!":  skrifgedeeltes geneem uit die boeke van "Mattheus", "Markus", "Lukas" en "Johannes"=  -(die onderstaande gebeure is nie noodwendig in volgorde nie en net sekere inligting rakende die onderwerp van bespreking, is uitgelig)
In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit. 
----------------------
En Jesus is deur die Gees weggelei in die woestyn, en Hy was saam met die wilde diere.  Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.

En nadat Johannes die Doper gevange geneem is, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.  Toe Hy hoor dat Johannes in die gevangenis gesit was, het Hy na Galiléa teruggegaan. En Hy het Násaret verlaat en gaan woon in Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het:  Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene— die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan. Ook daar het Hy begin preek en sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.  En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ‘n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak, en hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg. En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebedéüs, besig om hulle nette heel te maak; en dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg.

 Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was ‘n man in die sinagoge van Kapérnaüm,  met ‘n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit!  En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met ‘n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is?

 En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af. En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom;  en Hy het sy mond geopen en hulle geleer, o.a. het hy gese:  Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.  Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.  Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 

Hy het ook nog baie ander dinge vir hulle geleer in die bergpredikasie, en toe Hy van die berg afkom, het groot menigtes Hom gevolg; En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar 'n man vol van melaatsheid;  en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig. En Jesus sê vir hom: Pas op dat jy dit aan niemand vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses voorgeskrywe het, tot ‘n getuienis vir hulle.  Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.


En die dienskneg van ‘n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê. Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak,  en die woorde: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne.  En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen;  want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou. En Jesus het saam met hulle gegaan en gese: Ek sal kom en hom gesond maak; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, kom die hoofman oor honderd en sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook ‘n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie. Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Toe sê Jesus vir die hoofman oor honderd: Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur.  

En die dag daarna was Hy op weg na ‘n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en ‘n groot menigte het saam met Hom gegaan. En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee; en ‘n groot menigte van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.  En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ‘n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.

En toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors. En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien.  En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.

 En toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om te vertrek na die oorkant. En toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. En ‘n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word, maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan! En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges?  En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom. En die manne het hulle verwonder, 'n groot vrees het hulle oorweldig en hulle het vir mekaar gesê: Wat vir ‘n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is? En toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie. En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig? En ver van hulle af het ‘n groot trop varke gewei. En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar. En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om. En die wagters het gevlug; en toe hulle in die stad kom, het hulle alles vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. En kyk, die hele stad het uitgekom, Jesus tegemoet; en toe hulle Hom sien, smeek hulle dat Hy uit hulle gebied moet weggaan.



 En nadat Hy in die skuit geklim het, het Hy oorgevaar en in sy eie stad gekom. ‘n Sekere owerste het gekom en voor Hom neergeval en gesê: My dogter het nou net gesterwe, maar kom en lê u hand op haar, en sy sal lewe. En Jesus het opgestaan en hom gevolg, en ook sy dissipels.  En ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie, het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het? Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. En toe Hy in die huis van die owerste kom en die fluitspelers sien, en die skare wat te kere gaan, sê Hy vir hulle: Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, maar sy slaap. En hulle het Hom uitgelag. En nadat die skare uitgedryf was, het net Hy, Petrus, Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie ingegaan, en Hy het haar hand gegryp en uitgeroep: Dogtertjie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee. En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê wat gebeur het nie, maar  die gerug hiervan het deur daardie hele land versprei. 



 En toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid! En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here. Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof. En hulle oë het oopgegaan. En Jesus het hulle skerp aangespreek en gesê: Pas op, laat niemand dit te wete kom nie. En terwyl hulle weggaan, bring die mense ‘n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe. En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie! En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. 


In daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het  honger geword en die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet. Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie. Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het— hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat. En Hy het daarvandaan weggegaan en in hulle sinagoge gekom. 

En toe Jesus hoor dat Johannes onthoof is, het Hy daarvandaan in ‘n skuit vertrek na ‘n verlate plek alleen. En die skare het dit gehoor en Hom van die stede af te voet gevolg. En toe Hy uitgaan, het Hy ‘n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. Toe dit aand word, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol.  En dit was omtrent vyf duisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders. En Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur. En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle.  Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see.  En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is ‘n spook! En hulle het geskreeu van vrees.  Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie. En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom. En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan. Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?  Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê. Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God!

En hulle het oorgevaar en in die land Gennésaret gekom. En Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek. En ‘n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete. Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. En sy was ‘n Griekse vrou, ‘n Siro-Feniciese van geboorte. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En toe sy huis toe gaan, vind sy dat die duiwel uitgevaar het en dat haar dogter op die bed lê.


En die Fariseërs en Sadduseërs het nader gekom om Hom te versoek en het Hom gevra om hulle ‘n teken uit die hemel te laat sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi. En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie? ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan. En toe sy dissipels na die oorkant gegaan het, het hulle vergeet om brode saam te neem. Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brode saamgeneem het nie. Maar Jesus het dit opgemerk en vir hulle gesê: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie? Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyf duisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie?  Of die sewe brode van die vier duisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie?  Hoe is dit dat julle nie begryp dat Ek nie in verband met brood vir julle gesê het om op te pas vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs nie? Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs.

  En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?  En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.  Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?  En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.  Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.  En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.  Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie. Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense. Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie. En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring.  En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom. Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía. Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees. En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie. Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen. En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.

En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak. En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie? En Hy het hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betánië en daar vernag. En vroeg in die môre toe Hy teruggaan na die stad, het Hy honger gehad; en Hy sien ‘n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ‘n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog. En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog? Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.

Die Fariseërs het baie vir Jesus probeer vasvra, maar hulle kon nie. En toe, op 'n dat toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?  As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? En niemand kon Hom ‘n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.

 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.  Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet— dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie.  Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.  Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.

Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.