Hierdie lesreeks ("Jy het 'n Maker") is bedoel vir 10-15 jariges, en is bedoel om die kinders se oë op die Here God te rig, die Here wat hulle gemaak het, hulle ken, vir hulle omgee, en weet wat is goed vir hulle.
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
LES 1:
Voorbereiding + inleiding vd les:
GEE SOWAT 5 TOT 10 MIN. VIR HIERDIE DEEL VAN DIE LES.
(1) Die onderwyser koop (skenk) iets vir die kerk (bv. vir die kerk se kombuis), maar dit moet 'n HANDLEIDING by hê, en nog beter as dit in 'n boks kom! sodat die kinders dit kan oopmaak en uithaal... Een of twee van hulle moet die handleiding lees en hulle moet kyk hoe die produk werk.
OF
(2) 'n Ander alternatief is dat die kinders vooraf iets moet skep met die hande, maar iets wat 'n funksie het (bv. beter dat hulle dit gedurende 'n vakansie skep); of die onderwyser kan self iets skep... Dit moet na die volgende Sondagskool klas gebring word. In hierdie geval is elkeen (wat iets ontwerp het) die "skepper", en moet vir die res wys hoe hulle produk werk. Vra hulle om 'n handleiding op te stel van hulle produk (van bv. wie dit ontwerp het, hoe dit werk, al die "moets en moenies", ens.).
Aanbieding van die les:
SPANDEER DIE RES VD KLASTYD OP HIERDIE DEEL VAN DIE LES, MAAR PLAAS DIE PRODUK EENKANT.
Nadat die produk uitgehaal, die handleiding bestudeer is, en die kinders nou weet hoe die produk werk, gesels kortliks oor die produk terwyl spesifieke dinge gesê word en/of vrae gevra word. Die volgende is belangrike feite om te noem:
(a) Die produk is deur iemand ontwerp en gemaak, en wie dit ookal ontwerp het weet alles van die produk en kan enige iets antwoord oor die produk. Daar kan bv. gevra word wat om te doen as daar iets is van die produk wat ons nie verstaan nie (bv. hoe 'n spesifieke knop werk, of wat om te doen as daar 'n probleem ontwikkel). Eerstens moet ons natuurlik dan in die handleiding kyk, maar as dit nie in die handleiding geskryf is nie, vir wie gaan ons vra? (hierdie is 'n belangrike vraag, want dit is net die skepper vd produk wat hierdie presies sal kan antwoord).
(b) Die produk het 'n handleiding (vra die kinders wat die doel is van die handleiding?). Die handleiding leer ons alles wat ons nodig het om te weet van die produk - bv. wie dit geskep het, hoe dit werk, die "moets en moenies", ens. (dit vertel nie vir ons alles van die produk nie, maar wel dit wat ons nodig het om te weet; en as ons nog iets moet weet moet ons die verspreider vra, wie op beurt die skepper vra...). Die handleiding vertel ook vir ons hoe ons vir die produk moet sorg, asook dit wat nie goed is vir die produk nie (bv. dat dit nie in water gedompel moet word nie, of watookal).
DIE BELANGRIKSTE/GEESTELIKE DEEL VAN DIE LES: Net soos hierdie produk 'n skepper/maker het, net so het die mens 'n Maker, nl. die Here God (wat ons geskep het) - jy is een van Sy skepsels en Hy weet alles van jou! (Gen 2:7) "En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword") Hy ken jou en verstaan jou, en weet wat is goed vir jou, en weet ook wat is nie goed vir jou nie. Net soos hierdie produk, gee die Here ook vir ons 'n handleiding...; bv., oor die eeue het Hy op verskillende maniere vir ons geleer wat goed is vir ons, maar ook wat nie goed is vir ons nie. In die O.T. het die Here spesieke mense aangestel (nl. die profete) om vir die mens te vertel wat hulle moet weet.
(Vra die kinders watter "handleiding" ons op die oomblik gebruik om onsself te leer ken en te leer wat die Here van ons verwag? - maak seker die Bybel is naby). Die Bybel vertel nie net vir ons van ons Skepper nie, maar leer ook vir ons baie oor God se skepping. Jy is 'n skepsel van God, en in die Bybel kan jy baie oor jouself leer, bv. wat goed is vir jou, en wat nie! As jy doen wat die HANDLEIDING sê, dan sal dit met jou goedgaan; maar as jy nie doen wat die handleiding sê nie, sal jy probleme ontwikkel (net soos met die produk sal gebeur as jy iets doen wat die handleiding sê jy nie moet doen nie). Die Bybel is soos ons handleiding. Maar wat gebeur as daar iets is wat die Bybel nie vir ons vertel nie? Wat doen jy as jy nie weet wat om te doen nie, of 'n probleem het (soos met die produk) en nie weet wat die antwoord is nie? In die produk se geval het ons die verspreider gevra, want die verspreider is in kontak met die maker en het daarom meer kennis van die produk; en as die versrpeider nie weet, dan gaan vra hy vir die maker... (1 Joh. 5:14; Fil. 4:6; ens.). Op dieselfde wyse vra ons vir ouer mense of mense wat oor ons gestel is, vir geestelike antwoorde (want hulle weet al meer as ons). As jy wat 'n skepsel is van die Here God, jou ouers of onderwyser of wie ookal vra vir antwoorde en hulle weet ook nie, vir wie moet hulle dan vra? - vir ons Skepper! Ons Skepper ken al die antwoorde, Hy het ons immers gemaak, en Hy wil graag hê dat ons Hom raadpleeg. DIE HERE KEN ONS (want ons is Sy skepsels), EN HY WEET WAT GOED IS VIR ONS, EN WAT NIE. Sonde is bv. nie goed vir ons nie, dit is waarom die Bybel vir ons vertel wat sonde is en hoekom ons daarvan moet wegbly. Maar die Bybel vertel ook vir ons wat is goed vir ons, bv. dat ons moet mekaar moet liefhe (Matt. 19:9; ens.), dink aan die Here se woorde (Jos. 1:8)(dat ons dit wat in Sy handleiding geskryf is, moet bepeins) en die regte dinge begeer (1 Pet. 2:2), ens.
DAAR IS NATUURLIK BAIE MEER WAT GESê KAN WORD - HIERDIE IS NET 'N VB. VAN HOE SO 'N LES MOONTLIK KAN VERLOOP...
DIT IS MISKIEN 'N GOEIE IDEE OM DIE PRODUK OF "SKEPPING" DAAR TE LAAT IN DIE KLAS OF KERK, WANT ELKE KEER WANNEER DIE KINDERS DIT GAAN SIEN, GAAN DIT HULLE DALK HERINNER AAN DIE LES!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.