Tuesday, May 13, 2025

Storieverhaalkaart 6: Die uitstorting van die Heilige Gees


In die storieverhaal-kaarte, is die verhale in die boeke van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, bymekaargebring - ekstra inligting is bygevoeg en flitskaarte uit die "Het jy geweet..."-boekie is ingesluit.  (Die storieverhale kan gebruik word vir voorlesing en lesaanbieding in konteksverband).

  • Storieverhaal-kaart 6:  Die uitstorting van die Heilige Gees  (Die aandag word gerig op O.T. profesieë rondom die uitstorting van die Heilige Gees, asook die feit dat die uitstorting van die Heilige Gees self 'n bewys is dat Jesus die Messias is)
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Storieverhaalkaart 6: "Die uitstorting van die Heilige Gees": 

Die uitstorting van die Heilige Gees was reeds eeue voor Jesus se geboorte voorspel.  Dit is iets waarna die Jode uitgesien het en in baie profesieë was die koms van die Messias gekoppel met die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2:17,18).  (Joël 2:28-32: "En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet"). Die volk het verwag dat wanneer die Messias kom die uitstorting van die Heilige Gees o.a. ook sal plaasvind. - die uitstorting van die Heilige Gees was dus 'n gebeurtenis wat self bewys het dat Jesus die Messias is!, want as Hy nie was nie sou die uitstorting van die Gees nie plaasvind nie.

Jesus het self die volgende stelling gemaak in Joh 7:38 en 39: "Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie". Nadat Jesus opgestaan het uit die dode en vir 40 dae aan die dissipels verskyn het en hulle geleer het oor die koninkryk van God, het Hy hulle bevel gegee om in Jerusalem te wag op hierdie belofte van die Vader, en het Hy gese:  (Hand. 1:5 - "...Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie"). Johannes die Doper het ook hiervan getuig:  (Matt. 3:11 - " Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur")(Luk. 3:16).   Tydens Petrus se eerste prediking in Hand. 2 (toe 3000 mense tot bekering gekom het ), het Petrus juis die woorde in Joel aangehaal om te bevestig dat hierdie profesie van die uitstorting van die Heilige Gees vervul is... "....Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is", se hy in v.16.
 - die uitstorting van die Heilige Gees is 'n klinkklare bewys dat Jesus inderdaad die Messias is op wie hulle gewag het!  Die uitstorting van die Heilige Gees was nie 'n vreemde begrip vir die Jode nie en hulle het verwag dat dit sal gebeur nadat die Messias verheerlik is (Joh. 7:39).  In Hand. 2:33 sê Petrus die volgende:   " Nadat Hy (dit is Jesus) dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor" - dit is Jesus Christus wie die Heilige Gees vir ons gee.  As jy in Hom glo kan jy ook die Heilige Gees ontvang.

In Ou Testamentiese tye kon net sekere mense die Heilige Gees ontvang, bv. die profete en sekere konings... Die res van die volk was gelei deur die wat die Heilige Gees gehad het. Koning Dawid het ook die Heilige Gees in hom gehad - ons lees bv. in 1 Sam. 16:13 dat toe Samuel vir Dawid gaan salf het as koning, het God se Gees oor Dawid vaardig geraak. Die profete van die Here in die O.T. (bv. Elia, Elisa, Daniël, Eségiël, ens.), het almal die Heilige Gees gehad - die Here het Sy Gees gebruik om hulle te lei sodat hulle doen en praat dit wat Hy wil hê gedoen en gesê moet word. Dit is ook hoekom konings die Heilige Gees ontvang het, is sodat hulle die volk kon lei volgens die Here se wil;  maar daar was gevolge as hulle nie doen wat die Gees hulle sê om te doen nie! Bv., koning Saul het ook die Heilige Gees in hom gehad maar omdat hy ongehoorsaam was en nie gedoen het wat die Here wou hê hy moet doen nie, het God Sy Gees weer van hom weggeneem...(1 Sam. 16:14). Dawid het gesien wat met Saul gebeur het (dat God Sy Gees van Saul af weggeneem het), en wou seker maak dat dit nie met hom gebeur nie - hy't bv. die volgende geskrywe in (Psa 51:11/13  "Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie").  Sommige Christene glo nie dat dit met hulle kan gebeur nie, maar wat die Skrif ons leer is dat Geesvervulde mense die Gees kan verloor as hulle ongehoorsaam bly.  Weergeborenes in wie die Gees is, wat in opsetlik aanhoudende sonde stap, staan bv. die gevaar dat God Sy Gees van hulle kan wegneem sou hulle hul nie bekeer nie!  GEHOORSAAMHEID is belangrik vir die Here, nie net om die Heilige Gees te behou nie, maar ook om die Heilige Gees te ontvang! (Hand. 5:32 - "En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is"). Beide gehoorsaamheid en bekering is voorvaardes om die gawe van die Heilige Gees te ontvang (Hand. 2:38). 

Jesus Christus het voor Sy hemelvaart vir Sy dissipels gesê dat Hy met hulle is al die dae tot aan die voleinding  van die wêreld! (Matt. 28:20). Dit beteken nie dat Hy self fisies hier teenwoordig is nie (want Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God), maar wat Hy bedoel het is dat Hy d.m.v. die Heilige Gees teenwoordig is... Waar die Heilige Gees teenwoordig is, is God teenwoordig... (Jes. 63:11).  M.a.w., as die Heilige Gees in iemand is, dan is God by hulle teenwoordig  (1 Kor. 6:19 - "Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?"). Die Heilige Gees is bedoel vir mense wat aan Jesus Christus behoort - Hy gee die Heilige Gees aan hulle. Die wat die Heilige Gees ontvang is mense wat vir die Here begin leef - hulle leef nie vir hulleself nie.  Hulle dien en volg Hom. Dit is amper soos om gemerk te wees - woorde wat in die Skrif hiervoor gebruik word, is "gesalf" of "verseel". Die wat die Heilige Gees ontvang is gesalfde mense - die Heilige Gees leer en lei hulle, en hulle is gesalf om vir die Here te werk en lewe (1 Joh. 2:27). Hulle dien vir Jesus Christus (Hy is die Een wat hulle salf).  Wat dit kortom beteken is dat hulle Hom soos slawe begin dien... 

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Jesus het baie mense gesond gemaak, sodat almal wat vol kwale was, op Hom toegeloop het om Hom aan te raak. En elke keer as die onreine geeste Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskreeu en gesê: U is die Seun van God! En Jesus het die mense herhaaldelik streng gebied om Hom nie bekend te maak nie.  En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf. En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee; en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus—aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder— en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes, en Judas Iskáriot.  Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien en die skare het hulle verwonder.  En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?  Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie. En ander het Hom versoek en van Hom ‘n teken uit die hemel begeer. Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. Wanneer ‘n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid. Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit. Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof. Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word (Matt. 12; Mark. 3; Luk. 11).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.