Sunday, March 10, 2013

Storieverhaal-kaart 5: Jesus Christus, die Lam van God


Storieverhaal-kaart 5: Jesus Christus, die Lam van God


In die storieverhaal-kaarte, is die verhale in die boeke van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, bymekaargebring - ekstra inligting is bygevoeg en flitskaarte uit die "Het jy geweet..."-boekie is ingesluit:  (gaan na die "Het jy geweet - page" om nog inligting te versamel)..  (Die storieverhale, kan gebruik word vir voorlesing en lesaanbieding in konteksverband)


  • Storieverhaal-kaart 5:  JESUS CHRISTUS, DIE LAM VAN GOD  (dit vertel die verhaal van Jesus Christus, die Seun van God, wat mens geword het, onder die mens kom woon het - die een oor wie geprofeteer is, die Messias, die een wat "mag het om sondes te vergewe" - daar is ook oor Sy dood geprofeteer -Jes. 53; Ps. 22)
  • - bedoel vir 11-14 jariges, alhoewel dit in beprekingsvorm gebruik kan word vir tot 15 jariges (vrae wat dan gevra word, is bv.:  "Wat het dit regtig beteken dat die Messias sondes kan vergewe?" of ?Hoekom het Johannes Jesus die 'Lam van God' genoem"?  ens.)
-----------------------------------------------------------


Storieverhaalkaart 5: "Jesus Christus, die Lam van God"

(Hand. 10:43)  "Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang".

In die boek van Openbaring word daar baie na Jesus verwys as die "Lam" - (Openb. 5:6) "... in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is";  (Openb. 5:8)  "en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer..."; (Openb. 7:17)  "want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee"; (Openb. 19:9)  "Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God".
Johannes het ook vir Jesus genoem die "Lam van God" - "...die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!"...";  ...die volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels; en toe hy Jesus sien wandel, sê hy:" Dáár is die Lam van God!...".

Wat het Johannes regtig met hierdie woorde bedoel en hoekom word na Jesus verwys as die "Lam"?  
In Luk. 24, nadat Jesus opgestaan het uit die dood en aan baie dissipels verskyn het verskeie male, het Hy op een geleentheid die volgende aan hulle gese: 

(Luk 24:44) " En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.
(Luk 24:45)  Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
(Luk 24:46)  En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,
(Luk 24:47)  en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder".  
Jesus verwys in hierdie gedeelte na dit wat oor Hom geskrywe is in die wet van Moses, die profete en die Psalms. Die profetiese boeke het nie net verwys na Jesus "as Koning" nie, maar ook as Een wat moes ly... Kom ons kyk na een of twee van hierdie profetiese skrifgedeeltes:

------------------------------------
*  (Psa 22:1-32)  Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die hert van die dageraad." ‘n Psalm van Dawid. My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul? My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie. Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel! Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered. Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie. Maar ek is ‘n wurm en geen man nie, ‘n smaad van die mense en verag deur die volk. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom! Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God. Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie. Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring. Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ‘n leeu wat verskeur en brul. Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.  Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad. Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help! Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond. Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor! Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys. Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel! Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp. Van U kom my lof in ‘n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees. Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe! Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid. Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies. Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie. ‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag. Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.
----------------------------------------
*  (Jes. 53:1-12)  Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak niesoos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
----------------------------------------

In O.T. tye is die "sondoffer" gebring wanneer iemand teen 'n ander of teen God gesondig het.  Die gebruik van offers bring aan die Here, is egter iets wat gedoen is van die vroegste tye en reeds te sien in  Gen. 4, waar Abel 'n LAM SLAG en die beste dele aan die Here offer. Net so lees ons bv. van Abraham wat offers aan die Here gebring het, ook Noag e.a. In die boek van Levitikus word verskillende soorte offers beskryf soos God aan die volk opdrag gegee het, o.a. die "sondoffer" wat spesifiek 'n offer was vir die sonde.  Die "dood van die dier", kan soos 'n plaasvervanger gesien word vir die persoon "wat eintlik die dood verdien".  Vir sonde wat die dood verdien het, kon egter nie eens met 'n offer betaal word nie.  Skape en bokke was gebruik as sondoffer.  Die offer op "Versoendag" was anders as die gewone sondoffers (Lev. 16).  Op die geleentheid is blykbaar twee bokke geoffer:  een soos 'n gewone sondoffer, en die ander is lewendig die woestyn ingejaag as simbool van die sonde wat verwyder word.  Die bloed van die sondoffer is dan gesprinkel op die versoendeksel  van die ark van die verbond in die Allerheiligste deel van die tabernakel/ later tempel - slegs die hoepriester kon ingaan in die allerheiligste - dit was gedoen een maal 'n jaar (Hebr. 9) - hierdie offer het behels " 'n offer vir onwetende sondes" - daadsondes. 






(let wel dat die Jode egter wel beweer dat hulle presies weet waar die ark van die verbond gebere is)



Wat dit nou beteken, is dat die Messias, Jesus Christus, met Sy dood, (een maal) ingegaan het in die allerheiligste, as hoepriester, en met Sy eie bloed, versoening gedoen het vir ons sonde. (Heb 9:15-17 - "En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. Want waar ‘n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word; want ‘n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is so lank as die testamentmaker nog leef nie".) Met die kruisiging van die Messias, het die nuwe testament in werking getree deurdat Hy vir ons geoffer is.  Siende die offers van die Ou Testament nie vir God tevrede kon stel nie en oor en oor gedoen moes word, het Jesus gekom om die wil van die Vader uit te voer en Sy lewe af te le as die perfekte Lam (1 Pet. 3:18).(Heb 9:24-26)  "Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie, want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen".
  Hy was die perfekte offer.  Daarom is dit so gevaarlik om in opsetlike sonde voort te stap, want (Heb 10:26 - "...as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie").

  

(Hand. 13:38)  "Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word,

(Hand. 13:39)  en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie".

Hierdie is ook deur die profeet Jesaja voorspel:   "Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel..........soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders...".

=================================================================================
(Die volgende is verhaal gedeeltes geneem uit die boeke van "Mattheus", "Markus", "Lukas" en "Johannes"=  -(die onderstaande gebeure is nie noodwendig in volgorde nie en net sekere inligting rakende die onderwerp van bespreking, is uitgelig) - HIERDIE KAN GEBRUIK IN GROEPSBESPREKING:

*  JESUS HET SELF GETUIG DAT HY DIE LAM IS:

Die volgende vrae kan aan die groep gestel word:  
- "Watter voorwaarde stel Jesus sodat iemand gered word en nie in sy sondes sterwe nie?
- "Watter voorwaarde stel Jesus as bewys dat iemand waarlik Sy dissipel is?

Baie dinge het Jesus gespreek terwyl Hy in die tempel geleer het.
En Jesus het weer vir hulle gesê: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sonde sterwe. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode: Hy sal Homself tog nie om die lewe bring nie, omdat Hy sê: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie? En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie. Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe. Toe sê hulle vir Hom: Wie is U dan? En Jesus antwoord hulle: Net dit wat Ek vir julle sê. Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek, wat Ek van Hom gehoor het, dit spreek Ek tot die wêreld. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gespreek het nie. En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is. 


Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo. En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. 

--------------------------------------------------------------------

WIE HET JOHANNES DIE DOPER GESE IS JESUS?

 Daar was ‘n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. 

Johannes getuig van Hom en roep en sê: "Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar".

 En die Jode uit Jerusalem het priesters en Leviete gestuur om Johannes te vra: "Wie is u?" 

En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: "Ek is nie die Christus nie". 

Toe vra hulle hom: "Wat dan? Is u Elía?"

 En hy sê:  "Ek is nie". 

"Is u die profeet?" 

En hy antwoord: "Nee".

 Toe sê hulle vir hom: "Wie is u? —dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?" 

Hy antwoord:  "Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het".

 En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs.  En hulle vra hom en sê vir hom: "Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie?" 

Johannes antwoord hulle en sê: "Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie— dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie".

 Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop. 

Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ‘n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek. En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop". En Johannes het getuig en gesê: "Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is".

 Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels; en toe hy Jesus sien wandel, sê hy:" Dáár is die Lam van God!"

 En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.