Sunday, January 13, 2013

Besprekingsvrae 12-17 jariges: HOEKOM AANBID MENSE AFGODE?

- VRAAG:  In Rom. 1:20 word verduidelik dat GEEN MENS sonder verontskuldiging is nie: (Rom 1:20)  "Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie" en dat (:19) "wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar".

Hoekom dan aanbid so baie mense afgode?  

Volgens bg. skrifgedeeltes, is dit duidelik dat God Homself openbaar aan elke mens op een of ander stadium - niemand sal enige verontskuldiging he nie.  Hoekom kies baie mense dan eerder om "dinge" te aanbid as vir God self? Selfs baie van die Joodse volk het afgedwaal en afgode aanbid - kyk maar bv. in die woestyn oppad na Kanaan!  Hulle het God se almag eerstehands ervaar en het geen rede gehad om agter gode aan te gaan nie;  tog het baie van hulle, maar hoekom???

-  Lees Rom. 1:18-32


In hierdie skrifgedeelte, praat Paulus oor mense wat die waarheid verdruk.  
Hy verwys na hulle as mense wat opsetlik nie vir God wil ken nie en Hom ook nie as God verheerlik of dank nie. 
Hy verwys ook na hulle as mense wat dink dat hulle baie wys is, maar eintlik is hulle dwaas.
Hy gaan verder deur te noem wie hierdie mense is en praat o.a. van mense wat afgodsdiens beoefen en in opsetlike sondes stap - hy praat van hoereerders, kwaadsprekers, kinders wat ongehoorsaam is aan hulle ouers, homoseksualisme, grootpraters ens.




 Kyk veral (Rom 1:18)  "Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk", en (Rom 1:25)  "hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen".  Afgodediens was die wortel van baie ONGEREGTIGHEID en ONSEDELIKHEID onder die heidene;  asook onder God se volk!  Tye wanneer die Israeliete afgode aanbid het, was wanneer hulle juis afvallig was en nie ondergeskik was aan die Here se wil nie - tye wanneer hulle ontevrede was en hulle eie wil gesoek het, wanneer hulle gekies het OM IN SONDE TE STAP en nie wou regmaak met die Here nie.  Dan het hulle vir hulle afgode gemaak om "dinge vir hulle te doen wat God nie vir hulle wou doen nie" - nie dat afgode enige iets kan doen nie!  Op so 'n manier probeer diesulkes hulleself regverdig en stap voort in hulle sonde sonder om reg te maak met die Here. Hulle skep vir hulle 'n god wat hulle nie beoordeel nie.  So iemand wil self god wees oor hulle eie lewe en wil 'n god dien slegs om "selfsugtige redes".  God laat Hom egter nie beskryf deur mense nie, maar beskryf Homself soos Hy wil.  Mense moet ook nie dink dat dit hulle plek is om die Here voor te skryf nie, maar moet onderdanig wees aan die Here en wat Hy wil.  

DIE REDE DUS HOEKOM MENSE AFGODE AANBID, IS A.G.V. SONDE EN DIE FEIT DAT HULLE HULSELF NIE ONDERGESKIK WIL STEL AAN HULLE SKEPPER NIE - Paulus het hierdie punt goed beskryf in Rom. 1.

Ons moet ook verstaan dat afgodsdiens nie net verwys na 'n afgodsbeeld nie, maar verwys na enige iets wat bo die Here gekies word:  (Kol 3:5) " Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is".  Daarom is dit baie gevaarlik om in opsetlik, aanhoudende sonde te stap, want dit raak iemand se eerste liefde!  As die Christen nie bereid is om op die pad van godsaligheid, opsetlike sondes neer te le nie, bestaan die kans dat hy kan verloor wat hy verkry het in die Here - (Openb. 2:4,5) " Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.  Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie" - lees ook die vorige verse - daardie Christen se" arbeid en werke en lydsaamheid en die feit dat hy slegte mense nie kan verdra nie en selfs die onderskeiding het om die valse uit te ken en ter wille van die Here se Naam gearbei het sonder om moeg te raak", sal vir hom niks beteken as hy nie die Here as Eerste Liefde KEN nie!  -("Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie").      .




In vandag se lewe word baie dinge algemeen aanvaar, selfs in Christelike kringe:  baie jongmense beoefen seks voor die huwelik (wat vir hoerery deurgaan);  om van ander kwaad te spreek, is algemeen, selfs in baie Christelike kerke; dit is nie eens snaaks as kinders ongehoorsaam is aan hulle ouers nie en  homoseksualisme word voorgestel as niks mee verkeerd nie; almal is so ingestel op sukses dat dit vandag 'n heeltemal natuurlike ding geraak het vir baie om groot te praat, trots te wees ens.  In Rom. 1 word hierdie mense egter almal gesorteer onder die WAT NIE VIR GOD WIL KEN NIE, HOM NIE VERHEERLIK NIE EN HOM NIE DANK NIE, m.a.w. mense wat "nie wil glo nie". Dit is die wat ander dinge hulle eerste liefde maak, in plaas van dat die Here hulle Eerste Liefde moet wees.   

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.