Saturday, September 1, 2012

Storieverhaal-kaart 2: die Stem van een wat roep in die woestyn!

In die storieverhaal-kaarte, is die verhale in die boeke van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, bymekaargebring - ekstra inligting is bygevoeg en flitskaarte uit die "Het jy geweet..."-boekie is ingesluit:  (gaan na die "Het jy geweet - page" om nog inligting te versamel)..  (Die storieverhale, kan gebruik word vir voorlesing en lesaanbieding in konteksverband.) 
  • Storieverhaal-kaart 2:  die Stem van een wat roep in die woestyn! (dit vertel die verhaal van die bediening van  Johannes die Doper)
  • - bedoel vir 9 - 12 jariges, alhoewel dit in beprekingsvorm gebruik kan word vir tot 15 jariges (vrae wat dan gevra word, is bv.:  "Wat  het die doop van Johannes regtig beteken?" of "Johannes het gepreek dat die koninkryk van die hemele naby is - hoekom was bekering belangrik daarvoor en wat was hierdie koninkryk waarvan hy gepraat het?" of "Wat het Johannes bedoel met die terme koring en kaf?" ens.)
-----------------------------------------------------------




Storieverhaalkaart 2:  die Stem van een wat roep in die woestyn! 
 Die volk het vir lank gewag op die "redding" wat deur die profete eeue voor die tyd voorspel is - 'n Koning wat hulle sou verlos uit die hand van hulle vyande. Daar was ook geprofeteer van die een wat voor Hom sou uitgaan, nl. Johannes die Doper:  "Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak".  Die volk het dus iemand verwag wat voor die Messias sou uitgaan, en die pad voorberei vir die verlossing. Hierdie persoon sou die kennis van saligheid aan die volk gee en vergifnis van hulle sondes. 

Johannes die Doper het voor Jesus Christus uitgegaan om die weg gereed te maak, om die "harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei".  Dit is dan ook die rede hoekom hy mense gedoop het, dit was 'n "doop van bekering" - bekering was nodig om deel te wees van die aardse koninkryk met die Verlosser as Koning.  Net voor Jesus se hemelvaart, het die dissipels Hom gevra: "Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?" -(Hand. 1:6).   In  (Mat 20:20,21), vra die hoogmoedige moeder van die seuns van Sebedéüs vir Jesus: "Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand...".  -Sy het ook duidelik 'n koninkryk verwag met Jesus as Koning..

(Luk 19:11-" En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ‘n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn - lees gerus die verhaal wat Jesus vertel in die gedeelte:  Luk. 19:12-27).
  Dit is ook wat Johannes gepreek het:  "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom".  Jesus het dit ook gepreek.  Later het Hy vir die owerpriesters en die Fariseërs gesê dat die koninkryk van God  van hulle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra, omdat hulle Hom verwerp - so sien ons ook dat dit juis die  Fariseërs en die wetgeleerdes was wat hulle nie wou laat doop deur die doop van Johannes nie. Die tema van "koninkryk" was dus 'n belangrike term en baie werklik vir die volk;  dit waaroor daar vir eeue gesels is en iets soos 800 jaar voor dit geprofeteer is. Oor wanneer Jesus nou hierdie koninkryk gaan oprig, was Sy antwoord aan die dissipels: "Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde"
 Steeds 2000 jaar later, word daar steeds gewag op hierdie "koninkryk".  Jesus het baie verhale vertel rondom die konkryk.  In die verhale gee Hy ook die voorwaardes vir "om te kan ingaan in die koninkryk".  Johannes het ook die voorbeeld gebruik van "koring en kaf" en daarmee verduidelik dat slegs die wat die nodige vrug dra, sal kan ingaan in die konkryk van die hemele. Daar is heelwat verskille onder die geleerdes t.o.v. koninkryk-studies, en baie geleerdes wil graag 'n onderskeid tref tussen die terme "koninkryk van die hemele" en  "koninkryk van God" en "koninkryk van Israel". Sommige geleerdes stel elke term voor as beduidende van 'n ander groep, bv. kerk of Jode ens.  Deur deeglike studie sal bevind word dat die terme somtyds oorvleuel. Die klem moet egter berus op die term "koninkryk". Alhoewel God die "koninkryk van Israel" wel sal oprig in die 1000-jarige Vrederyk (Openb. 11:15; 20:4) , moet ons verstaan dat die "kerk van Christus", wat bestaan uit Jode sowel heidene wat in Jesus Christus glo as hulle Saligmaker" (die wat deel gehad het aan die eerste opstanding), ook deel gaan wees van hierdie koninkryk. Wat die term "koninkryk van God" betref, is dit meer verwysend na die hartstoestand - Jesus het self ook verduidelik dat "die koninkryk van God nie kom met sigbare tekens nie, maar binne-in ons is" - Luk. 17:20,21. Tog word die term "koninkryk van God" in sommige skrifte gebruik in dieselfde konteks as die "koninkryk van die hemele". Om dit beter te verstaan, sou ons dit miskien as volg kon verduidelik: die manier hoe God bepaal wie deel is van die koninkryk van God of kan ingaan in die koninkryk van God/hemele, is deur na die hart van die mens te kyk - gehoorsaamheid en ondergeskiktheid aan Hom;  m.a.w. of die mens regtig glo en Hom eerste stel in sy lewe.  Sou die "koninkryk van die hemele" meer verwysend wees na hierdie aardse koninkryk, dan moet iemand steeds deel wees van die koninkryk van God om die koninkryk van die hemele in te gaan;  dit wil dus voorkom asof die verhale wat Jesus vertel het van die "koninkryk van die hemele", baie kenmerkend is van die kerk - nie dat die kerk huidiglik regeer nie, maar inteendeel, dat die wat deel is van die  "kerk van Christus", diensknegte is wat uitgaan om mense te versamel en tot bekering te roep sodat hulle kan deel wees van hierdie koninkryk.  Waarop ons veral moet ag gee, in die verhale wat Jesus vertel het rondom koninkryk van God/hemele, is die VOORWAARDES van om deel te kan wees van die koninkryk van die hemele/God.  (kyk gerus na "Vrae wat Tieners vra:  Eindtyd Onderwerpe).     
---------------------------------------------------------------------------


(Die volgende kan soos 'n verhaal voorgelees word en gaan oor)
Johannes die Doper, volgens die boeke van "Mattheus", "Markus", "Lukas" en "Johannes"
 -(die onderstaande gebeure is nie noodwendig in volgorde nie) :


  Daar was ‘n man van God gestuur, wie se naam Johannes was.  Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig, Jesus Christus, te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

Voor Johannes se geboorte, het 'n engel aan sy pa, Sagaria, verskyn en hom meegedeel dat sy vrou 'n seun sou baar vir wie hulle Johannes moes noem, en dat Johannes baie van die kinders van Israel sou bekeer tot die Here hulle God en dat hy voor Jesus Christus sou uitgaan om die weg gereed te maak.  Ook het die engel gese dat baie mense bly sou wees oor Johannes se geboorte omdat hy groot sal wees voor die Here. Die engel se woorde was verder:  "En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God".

( Die feit dat hy geen wyn of sterk drank sou drink nie, was een van die tekens vir iemand wat afgesonder is vir die Here. Gewoonlik was so iemand 'n "Nasareer" genoem en moontlik is Johannes ook so genoem).


Sagaria het nie die engel geglo nie en kon nie verstaan hoe die dinge selfs moontlik kon wees nie, siende hy al 'n ou man was en sy vrou ver op gevorderde leeftyd.  Hy wou ook 'n teken hê.
Toe sê die engel vir hom: "Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.  En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie".  Dit het alles gebeur terwyl Sagaria besig was
in die tempel van die Here, om die reukwerk te brand.  Die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer.  En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef.  Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy ‘n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.  En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan. Ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, swanger geraak en haar vyf maande lank verberg en gesê:  "So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem".



 In daardie dae het daar ook 'n engel aan 'n bloedverwant van Elisabet verskyn, nl. aan Maria, en haar meegedeel dat sy sal swanger word en 'n Seun baar, en sy moes Hom Jesus noem. Van Hom het die engel gese: "Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie".  Voor die engel weggaan, het hy haar ook vertel van Elisabet wat swanger is. 

Daarna, in daardie dae, het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na ‘n stad van Juda;  en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet.  En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees  en het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: "Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!  En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?  Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.  En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word". 
 En Maria het gesê: "My siel maak die Here groot,  en my gees is verheug in God, my Saligmaker;  omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem.  Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam.  En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees. Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.  Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.  Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.  Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink  soos Hy tot ons vaders gespreek het—aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.  En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe. 

 En die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het ‘n seun gebaar.  En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly.  En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader.  Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word.  En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie.  En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word.  Hy vra toe ‘n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd.  En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof.  En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa.  En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.  En Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê:  "Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,  en ‘n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg—  soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af—  redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat,  om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink,  aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien,  in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.
  En jy, kindjie, sal ‘n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak;  om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het,  om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig".  

En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.

  En in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne,  tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn. In daardie dae het hy opgetree en in die woestyn van Judéa  gepreek en gesê: 'Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom".  Johannes was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes, want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: "Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!  Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal ‘n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë.  En alle vlees sal die heil van God sien". En hy, Johannes, het ‘n kleed gedra van kameelhare en ‘n leergord om sy heupe, en sy voedsel was sprinkane en wilde heuning. Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: "Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?  Dra dan vrugte wat by die bekering pas.  En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.  Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi".  



En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen?  En hy antwoord en sê vir hulle: "Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen". En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen?  En hy antwoord hulle: "Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie".  En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: "Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy".  En terwyl die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus was nie, antwoord Johannes almal en sê:  "Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.  Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand. Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig".

Toe het Jesus van Nasaret in Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word.  Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?  Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: "Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul". (Alhoewel Jesus nooit gesondig het nie, het Hy Hom deur Johannes laat doop om Sy gehoorsaamheid aan God die Vader, te toon.
En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop en Hy sien die hemele skeur en die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.  En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het". 

En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u?  En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie.  Toe vra hulle hom:" Wat dan? Is u Elía?" En hy sê: "Ek is nie". "Is u die profeet?" En hy antwoord:"Nee".  Toe sê hulle vir hom: Wie is u? —dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. "Wat sê u van uself?"  Hy antwoord:" Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het".  En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs.  En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie?  Johannes antwoord hulle en sê: "Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie—  dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie".  En dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop. 
Op 'n ander dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: 'Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ‘n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek.  En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.  En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.  En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.  En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is".  Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.

  Hierna het Jesus en sy dissipels na die land van Judéa gegaan, en Hy het daar met hulle vertoef en gedoop.  En Johannes was ook besig om te doop in Enon naby Salim, omdat daar baie water was. En die mense het daar gekom en is gedoop. Daar het toe van die kant van die dissipels van Johannes ‘n redenasie met die Jode ontstaan oor die reiniging.  En hulle het na Johannes gekom en vir hom gesê: "Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe'.  Johannes antwoord en sê:" ‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.  Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is.  Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.  Hy moet meer word, maar ek minder". Op 'n ander keer was die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Jesus: "Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?"  En Jesus sê vir hulle: "Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie.  Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae".  



Toe Herodes, die viervors, deur Johannes bestraf is oor Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het, het hy‘n oog op Johannes gehad en wou hom om die lewe bring, want Johannes het vir hom gesê: "Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie".  Hy het Johannes gevang, geboei en in die gevangenis gesit.  En toe Jesus hoor dat Johannes in die gevangenis gesit is, het Hy na Galiléa teruggegaan.  Hoewel Herodes vir Johannes wou doodmaak,  was hy bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy ‘n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.  Hy het ook die skare gevrees, omdat hulle hom vir 'n profeet gehou het. 

Terwyl Johannes in die gevangenis was, het hy sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: "Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?"  En toe die manne by Hom kom, sê hulle: "Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?"  En in dieselfde uur het Jesus baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.  En Jesus antwoord en sê vir hulle: "Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.  En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie".  En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: "Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? ‘n Riet wat deur die wind beweeg word?  Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.  Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as ‘n profeet!  Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.  Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie".  En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes.  Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.

 By die viering van die verjaarsdag van Herodes het die dogter van Heródias voor hulle gedans en Herodes behaag.   Daarom het hy met ‘n eed beloof om haar enigiets te gee wat sy sou vra.  Toe sê sy, nadat sy deur haar moeder aangehits was: Gee my hier op ‘n skottel die hoof van Johannes die Doper.  En die koning het treurig geword, maar ter wille van die eed en die feesgenote het hy beveel dat dit gegee moes word.  En hy het gestuur en Johannes in die gevangenis onthoof. Sy hoof is toe op ‘n skottel gebring en aan die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder gebring.  En toe Johannes se dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy liggaam weggeneem en dit begrawe, en hulle het dit vir Jesus gaan vertel. .En toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in ‘n skuit vertrek na ‘n verlate plek alleen, maar die skare het Jesus van die stede af te voet gevolg.  Toe koning Herodes dit hoor—want Jesus se naam het bekend geword—het hy gesê: "Johannes die Doper het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in Hom".  Ander het gesê: Hy is Elía, en ander weer het gesê: Hy is ‘n profeet of soos een van die profete.  En Herodes het gesê: "Johannes het ek onthoof; maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?"  Hy het probeer om Jesus te sien.  






---------------------------------------------------------------------------------


VIR BESPREKING:
---------------------------------------------------------------------------------
*  Wat is die voorwaardes om te kan ingaan in die koninkryk?

1.  "Bekering" is belangrik - dit is duidelik deur die prediking van Johannes die Doper
2.  Wat nog?  Kyk na wat het Jesus vir ons geleer daaroor uit die verhale wat Hy vertel het?
-  (a) ons moet die nodige vrug dra (die wat baie het, sal meer kry, en die wat min het, sal van weggeneem word wat hulle het);
- (b)  ons moet gereed wees;
- (c) wie sy lewe verloor om Sy ontwil, sal dit wen.




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.